As jy gedink het jy is bang, het jy my en my wederhelf noggie gesien nie. Ons is seker die bangste couple innie wêreld. So rukkie terug, met ons vakansie in NZ, besluit ons die een aand om die kiddies by skoonsus te los. Nie ver van Auckland af nie, is ‘n verlate hospitaal, Kingseat, wat omskep is in ‘n spookhuis. Vroeër die dag ry ons gou uit soontoe om te gaan kyk waar die plek is, en kry dit sommer maklik. Die plek lyk gn niks scary nie, maar die donker vertel gewoonlik n ander ding. Nou ja, vol moed, en gewapen met ‘n torch, trek ons toe die aand weg by die huis.
Die pad soontoe is stil, en hoe verder ons ry, hoe donkerder raak dit. Straatligte is nerens meer te bespeur nie. Ons gesels maar min, en ek hou myself maar besig terwyl die kilometers eintlik te vinnig na my sin verby vlieg.
Na ‘n draai, lê die plek se ingang toe voor ons. Die plek lyk nie meer so vreedsaam soos voeer die dag nie. Ek kyk maar voor my, want ek is seker as ek my kop in Willem se rigting draai en hy sien my gesiggie, dan draai ons net daar om en gaan eet McDonalds. Daar is nie juis bordjies wat se waarheen om te ry nie. Na ‘n rukkie sien ons polisie ligte voor innie pad. Die polisieman staan met een van daai neon liggies en wys vir jou om stil te hou, en dit lyk of die plek afgebaken is. Nou begin scenes uit rillers voor my flits. (Ek is mos met ‘n helse nice verbeelding geseen) Half verlig en half disappointed lig die ou ons in dat ons net moet parkering kry, doer iewers aan ons linkerkant, dan kan ons ingaan. Ek sit met ‘n helse smile op my gesig, en dissie van blydskap nie, dis van bang wees. Gewapen met ons tydelike paspoorte, loop ons na die ingang toe. Net gou eers ‘n sigaretjie rook, dan kan ons ingaan…
“Bozhoooooooo!!!!”hoor ek skielik hier naby my, en ek sluk amper daai sigaret in. Daar kom ‘n ou in ons rigting getrippel. Bozhooooooo brul die kettingsaag in sy hande. Hy lyk soos ‘n real-life version van Frankenstein. Hare deurmekaar, ‘n one-piece overall aan en dan daai bloeddorstige uitdrukking op sy bakkies. Skoonsus het my gewarsku voor die tyd, as jy bang lyk, dan pik hulle net meer op jou, so ek staan stil en maak of ek te lekker rook, asof my bene nie jellyrig is nie. Franky swaai daai saag ‘n paar keer millimeters van ons af, maar staan soos ‘n standbeeld, die staan ek. Sy opvolger, ‘n mannetjie met net sulke deurmekaar hare en ‘n sperwitte gesig loop to by jou en swaai ‘n mes gevaarlik rond. Nou kyk, die ou lyk glad nie lekker in sy kop nie, maar tog is hy glad nie scary na my sin nie. Ons gaan toe in, en koop ons kaartjies. Vir eers net twee attractions sê ek, net vir veiligheidshalwe. Netnou maak ek nie eers die een klaar nie…
Ons gaan staan in die rye. Voor ons staan so groep Sjinese, ‘n mengsel van mans en vrouens. Soos jy jou kaartjies gekoop het, so gaan jy in, en ek en hubby gaan met dié een op ons eie genade oorgelaat word. Die ry word korter, en die groep voor ons gaan in. Nou kyk, daar waar ons staan kan mens nie sien wat vorentoe aangaan nie. Dis pikdonker, met rook, goete wat vannie dag afhang, en die aakligste geluide. Terwyl jy staan en jou beurt afwag, is daar orals waarskuwings van wat jy mag en nie mag doen nie, soos jy slaan nie die “spook” as jy skrik nie, en gaan PP voor jy ingaan. My oog vang toe ‘n berig wat glo in die koerant verskyn het. Een person is glo na so trippie deur dié huis in ‘n mental institution opgeneem. My senuwees is omtrent klaar toe ek ‘n paar lede van die groep wat nou net in is, skielik sien uitgehardloop kom. Die een vrou omtrent in trane. Nou bokspring die hartjie van my lekker. Nou wag ons vir die “bouncer” om vir ons te se ons kan maar ingaan. Elke nou en dan kyk ek in sy rigting, net om te sien hy staar nogsteeds na my, sonder om sy weird oge te knip. Hy het contacts in, en die contacts laat hom nog erger lyk. Sy kop lyk of dit so half oopgebars is, met dele van sy brein wat uitsteek en oor die regterkant van sy gesig uithang. Die ou maak my al hoe meer ongemaklik voel, en ek dink hy sien dit, en dis hoekom hy aanhou staar.Hy praat nie, knip amper nie ‘n oog nie, maar kyk stip na my. Die ou freak my behoorlik uit, en ek is noggie eers innie huis nie! Na wat soos ‘n
ewigheid voel, sê hy ons kan ingaan…
Iewers aan ons regterkant is daar ‘n klomp dromme op mekaar gestapel, en ons gaan daar in. ‘n Paar tree in die kamer in, hoor ek die helse slag hier agter my, en in die omkyk trek die stembande toe onwillekeurig weg en desibels wat jy nog net oor n mikrofoon kon bykom, weergalm in die donkerte.Ek skrik skoon vir myself! Dit lyk asof die dromme waarby ek nou net verbygeloop het, op my gaan val. Besig om my asem terug te kry en my hart in my keel af te sluk, spring daar ‘n mannetjie agter daai dromme uit, en ek laat weer ‘n oorverdowende geskree los. Ek voel trane wel in my oge op, en ek sukkel om regop te bly. Hubby sê ons moet eerder omdraai, maar ek sê nee. Ek het nie verniet R300 betaal nie. Ek moet klaarmaak. Voetjie vir voetjie stap ons toe verder in die donker. Ek het nie ‘n idée waarheen om volgende te loop nie, dis net te donker om enige iets uit te maak. Toe die volgende ou aan my arm raak, spring ek amper op Willem. Saam besluit ons maar om net daar te wag vir die volgende groep om te kom, en sluit by hulle aan, want so op eie stoom land ek nog in die hospitaal vanaand…
So ongenooid stap ons toe saam die ander groep wat ‘n entjie agter ons inhaal verder deur die huis. Alleen sou ons dit nie kon klaar maak nie, dis net te erg. Ons skree mekaar se ore doof, en trap mekaar se tone flenters. Die een ou wat saam in die groep is, was al ‘n paar keer deur die huis, en hy bederf meeste van die dinge om te sê die Judge is lewendig, Pasop, hier gryp die “lyk” jou so innie verbyloop aan die arm en so aan, maar tog skrik jy as dit wel gebeur. Net voor ons by die onderste vloer klaar is, loop ons verby sulke selle waarin mal mense aangehou word. Die mense is vas aan ‘n ketting, met so massiewe groot swart bal aan, en hulle skree soos besetenes. Jy loop so paar tree, en net wanneer dinge stil raak, gryp die ou jou wat veronderstel is om in ‘n sel toegesluit te wees, jou van agter af. As my blaas vol was op daai oomblik, sou ek hom net daar en dan leeggemaak het. Kyk, ons hardloop mekaar toe omtrent uit die pad uit, om veilig bo uit te kom. Die grootbek mannetjie van die groep,] val toe op die trappe, en sommige van die groep val oor hom en bly agter. Ek hardloop daai trappe so op, ek mis die gevallery amper heeltemal. Oorlewing is nou al wat saakmaak. Bo staan en lag ons toe te lekker. Ek dink dis meer van adrenalien as wat ons vir die lomperds gelag het…
Die res van die toer gaan darem nie so erg af by my nie. Met die einde van die toer, lê ek amper soos ek lag. Sodra jy by die uitgang kom van die haunted house, is daar ‘n kafeetjie waar jy kan refreshments en snacks koop, om moed bymekaar te skraap vir die volgende uitdaging. Ek staan nog so, toe Willem my die volgende oomblik uit die pad uit spring. Daar op die grond seil ‘n vrou soos n slang, en dié het toe aan sy been begin trek. Sommige mense het saam hom geskree, en ander het saam my gelag. Die volgende attraction wat ons gedoen het, was die 3D-Vortex. Die tekeninge teen die muur is amazing, en die spoke min. Ek kan net een clown onthou, en die polka-dot mannetjie, maar Willem se daar was meer. Ek dink my brein het dit vir veiligheidsredes uitgesny…
Die lekkerste lag van die aand was toe ons by die uitgang van die Freaky Forest gaan sit en rook het. Kyk, daai mense het hulself omtrent beskyt. Die forest is glo erg, en jy gaan minimum 4 mense met ‘n torch op ‘n slag daar deur. En wanneer jy uiteindelik by die einde kom en dink alles is verby, storm die ou met die chainsaw op jou af. Kyk, toe die Sjinese groep van vroeër die aand daar uitkom, toe lag ek so ek kon skaars asemhaal. Dis toe wat ek eers sien hoe vreeslik die kettingsaag-ou vir Willem uitfreak. Die ou kom in ons rigting gehardloop, en toe ek weer sien trek Willem doer annerkant en skree “Kom my engel, die Fo**en ou is mal. Hardloop!!!”…
Toe ons ‘n rukkie later daai donker stille pad aandurf huis toe, klop my se hartjie maar weer hier in my keel. Mens weet nooit watter laaste verassing daar op jou wag oppad uit nie. Gelukkig is ons dit gespaar.As jy ooit beplan om NZ toe te gaan, sit Spookers op jou lys van dinge om te moet doen. Jy sal jare later nog hoendervleis kry…
Bygedra deur Dolfie
Bygedra deur Dolfie
Bygedra deur Dolfie
So paar tree vorentoe op my linkerkant sien ek die mannetjie wat die sirkus kaartjies verkoop kom uit sy karavaan uit, en stap in my rigting. Ek sien hy praat, en ek hoor so ver weg iemand se stem, maar ek kannie uitmaak wat hy babbel nie. Alles om my draai, en my ore sing. Ek voel vreeslik duislig, en wil net hier wegkom. Ek sien Willem praat met die ou, maar ek stap net. Kar, hier kom ek. Elke tree is ‘n straf, dit voel of ek aan die brand is, en ek sukkel om een voet voor ‘n ander te sit sonder om my boob vas te hou nie. Dit voel of hy aan net ‘n sening hang.

