Ai ai ai

September 27, 2007

 

Vanaand dink my man ek is in ‘n baie romantiese bui omdat die kamer so lekker ruik ;)

Dolla het mamma se splinternuwe bottel poeier gebruik om lekker te ruik, en toe so bietjie op die bed “gesprinkel” om die rooi van die duvet so effens te breek…

Don’t you just luv kids

:D


Ramadan…

September 13, 2007

Hierdie is my tweede Ramadan wat ek sal ervaar, maar tot onlangs was ek nie ten volle bewus van die rede hoekom die Moslems “vas” en wat die geskiedenis is nie. As expat in ‘n ander land met ‘n ander geloof is dit interessant om te weet waaroor alles gaan. Alhoewel al die ander gelowe aangaan met hul daaglikse bestaan, verander ‘n Moslem se lewe vir die maand. Okay, kom ek vertel jou bietjie meer…

Ramadan is die 9de maand van die Islamse kalender. Dit is glo in dié maand dat die Qur’an onthul is vanuit die hemel. Moslems gebruik ‘n lunar kalender, wat beteken elke maand begin wanneer die nuwe maan verskyn. Die lunar kalender verskil met 11 dae van die solar kalender wat in ander dele van die wêreld gebruik word, en dis ook dan die rede hoekom die moslemse vakansie dae elke jaar op ‘n ander datum is. Dié jaar word Ramadan opgevolg met kersfees, en dan Hanukkah.

Die gebruik van Ramadan is wanneer Moslems die fokus van die alledaagse dinge en gebeure op die agtergrond skuif en fokus op hul geloof. Na die maand van Ramadan verby is, glo die Moslems daaraan om ‘n geelte van hul rykdom te deel met minder bevoorregtes. Dit is glo so dat gedurende Ramadan die moslems “vas” om te ervaar hoe dit is om arm te wees en te sukkel, en dit dan die rede vir die donasies aan die einde…

‘K, nou die storie agter die storie. Gedurende die dag, van sonsopkoms tot sonsondergang, neem ‘n moslem geen vloeistof of kos in nie, selfs nie eers ‘n slukkie water nie. Nie eers rook of kougom kou word toegelaat nie, so dit beteken daar mag boggerol oor jou lippe gaan solank die son skyn nie. Die kinders van ‘n moslem begin glo eers rondom die ouderdom van 12 jaar die gebruik van die “vas” ten volle beoefen. As ‘n familie staan moslems vroeg op gedurende dié maand, en sit aan vir ete as gesin, wat suhoor genoem word.Na die son gesak het, word die “vas” verbreek met ‘n ete wat bestaan uit dadels en koeldrank, wat dan ‘n vinnige energy boost gee na die dag van terughouding. Die ete staan bekend as iftar. Dit is dan ook wanneer familie besoek word en hulle dan saam kuier. Die aand van die 27ste dag van Ramadan word meestal spandeer om te bid. Daar word geglo dat op dié dag die profeet Muhammad die eerste kennismaking met die Qur’an gehad het, en God die verloop van die volgende jaar beplan. Die “vas” word dan verbreek deur drie dae lank te vier, wat Eid-al-Fitr (die verbeking van die “vas”) genoem word. Eid-al-Fitr is so groot dat meeste plekke heeltemal toemaak vir die drie dae en alle gelowe het dan vakansie. Families kom dan bymekaar, ruil geskenke uit en geniet groot etes saam.

Mmm interessant né? Nou hoe word ons geraak daardeur wat in ‘n Moslem land woon? Daar word van ons verwag om gedurende die maand meer konserwatief aan te trek, bedoelende vrouens moet hul skouers toe maak, en mans moet verkieslik lang broeke dra in plaas van kortes. Om die proses vir almal makliker te maak, word daar van ons verwag om ook nie in die dag in die publiek te eet, drink en rook nie. Ons mag in ons huise en agter toe deure en in aangewyste afgeskorte areas wel. Meeste van die restaurante is toe gedurende die dag, maar daar sal hier en daar een wees wat oop is. Om in ‘n restaurant te eet is toelaatbaar, maar jou versnapperinge moet daar geniet word. Jy kan in groot moeilikheid beland as jy betrap word waar jy oortree. Na sonsondergang sal jy wel jou drankie kan geniet by ‘n kroeg, maar as jy in ‘n hotel tuis gaan, moenie verbaas wees as jou mini-bar gesluit is inni dag nie. …

Oor die algemeen is ‘n gesoenery en intieme oomblikke in die publiek nie oral oor heeltemal aanvaarbaar nie, maar gedurende Ramadan word daar groter klem daarop gelê. Die Islam geloof sê nou nie jy mag glad nie fisiese kontak he nie, want hulle glo dit kan lei na probleme. Hande vashou is wel toelaatbaar…

Dit klink seker of dit vir ons verskriklik moet wees om so op te offer. Inteendeel. Juis oor ons die opofferings gedurende die dag maak, mag ons in die Ramadan tente regoor die land aansluit en saam hulle die versnapperinge en drankies geniet. Daar sal jy Arabierse en internasionale disse kry om aan te smul, gepak met koeldranke, ‘n verskeidenheid van tee en koffies. Daar word gekuier, gespeel en in oorvloed geeet…

Ek hoop dié informasie was vir jou net so interessant soos vir my…